Sondag 12 Oktober 2014

Refleksie



Wat dink ek van die hele ‘blog’-gedoente? Ek was MAL daaroor! Ek kon nie wag om elke Maandagoggend my sê te sê nie. Dit was vir my ‘n bietjie moeilik om elke week 150 ‘blogs’ te lees en kommentaar daarop te lewer, maar dit was die moeite werd, want die meeste van julle het beter geraak met die skrywery en dit maak my bly :-) Dit was nie altyd lekker om net vir julle te sê wat julle foute is nie, want julle het oor baie oulike goed geskryf en ek het ‘n hele paar nuwe dinge geleer. Dit was lekker om julle 'blogs' oop te maak om te kyk wat julle geskryf het. Julle is darem baie oulik hoor! My ounooi is gelukkig om studente soos julle te hê. Ek het ook baie daarvan gehou om op ‘n Sondagaand, terwyl ek lekker snoesig in my bed lê, te lê en dink aan wat ek op ‘n Maandag gaan skryf. Ek hoop julle het my 'blog' soveel geniet soos ek julle s'n. Ek kan nie wag om dit volgende jaar weer te doen nie.
Dan groet ek eers, want hierdie worshond moet nou dringend iets in die veld gaan jaag! Ek het gister 'n mol daar gesien.
Worshondgroete…tot volgende keer!

Sondag 05 Oktober 2014

Verhalende skryfstuk



Julle sal nooit raai wat die naweek met my gebeur het nie. Soos julle reeds weet – ek is ‘n miniatuur worshond, so ek is redelik klein, maar dit beteken nie dat ek nie my stem kan dikmaak nie.
Oorkant my huis bly daar so ‘n groot wolhond. Hy blaf onophoudelik as sy baas nie daar is nie en dit irriteer my ounooi grensloos. Vrydagaand het een van my ounooi se vriendinne by haar kom kuier. Ek hou BAIE van haar. Sy het sulke oulike tone en ek is mal daaroor om dit te lek. Toe sy in die oprit stop, is ek verskriklik opgewonde en ek gil en skree by die venster: “Hallo Lize, Hallo Lize, welkom!” Gewoonlik is daar so ‘n plank voor die deur sodat ek nie kan uitgaan nie, maar my ounooi het vergeet om hom daar te sit en toe daardie deur oopgaan is ek soos ‘n vetgemeerde blits, uit by die deur om vir Lize te gaan groet. En dis toe wat dit gebeur; die simpel oorkantste hond sien my hardloop en begin weer met sy geblaffery. Ek dink toe so by myself: “vanaand wys hierdie worshond vir jou wie is baas.” Ek hardloop vreesloos oor die pad en gil: “Bly stil jou simpel hond. Jy raas en jy irriteer my ounooi!” Wat ek vergeet het, is dat sy heining daar is om ‘n groot hond binne te hou en nie om klein hondjies buite te hou nie. In my opgewondenheid storm ek toe sommer dwarsdeur die tralies en daar staan ek binne-in sy agterplaas. Hy het net een hap na my neus gegee en daar spat die bloed! Ek het baie groot geskrik. Net so vinnig as wat ek daar aangekom het, het ek stert-tussen-die-bene teruggehardloop en woeps, op my ounooi se skoot gespring. Volgende keer sal ek ‘n entjie wegstaan as ek so op hom skree.

Sondag 28 September 2014

Beskrywende skryfstuk



Die lekkerste lekker in die lewe is om te gaan stap! Net die gedagte aan die nat grassies wat so tussen my tone inklim, al die molle onder die grond in die parkie en al die interessante briefies wat die ander honde teen die lamppale vir my los, maak my heeltemal MAL van opgewondenheid.
In die oggende as my ounooi opstaan, lê ek tjoepstil onder die komberse en spits my ore, want as sy daardie raasbroek aantrek, weet ek - dis dalk staptyd. My hart begin al hoe vinniger klop, my stert gaan vanself aan die swaai en dan - as sy daardie skoene met die veters aantrek dan wéét ek dis DEFINITIEF nou staptyd! Dan vlieg ek soos ‘n pyl uit ‘n boog uit die bed uit. My lyf kry skoon die wilde weghol as my ounooi aan die bandjie vat. As sy te lank vat roep ek so hard as wat ek kan: “KOOOOOOOOOOOOOOOM OUNOOOOOOOOOI!!!” tot sy die deur oopmaak. Die groot wolhond van oorkant, die spanjoel van langsaan en die jack russel net verder in die straat af verwelkom my met ‘n vreeslike geblaf (ek dink hulle is jaloers), en ek gil van pure plesier want vir die volgende paar uur is ek in die hondehemel.
Sjoe, nou is ek lus vir stap…

Maandag 01 September 2014

Bekendstelling

'n Warm worshondwelkom by hierdie 'blog'!


My naam is Sophia, en soos julle kan sien: ek is ‘n worshond. Ek bly in Durbanville saam met my ounooi en gaan speel elke dag by my beste maatjie, Syrah. Hy lyk amper net soos ek, net groter. Op die foto lê ons lekker in die sonnetjie. Ek is die een wat vir die kamera kyk ;-)


Syrah bly net twee blokke van my af en ek en my ounooi stap sommer partykeer daarheen. In die week moet my ounooi gaan werk, so dan moet ek al baie vroeg opstaan om daarnatoe te gaan (05:00), maar ek gee nie om nie, want daar is altyd baie lekker kos om te eet en mense wat met my speel. So gepraat van kos – eet is een van my gunsteling aktiwiteite. Ek is ALTYD honger. 


Partykeer snuffel en snuif ek nog so in die tuin en dan ruik ek ewe skielik ‘n been. Dan grawe en grawe ek totdat ek die been onder die grond kry. My ounooi sê gewoonlik dat my asem stink daarvan, maar sy weet niks. Dis BAIE lekker. Ek hou ook baie daarvan om in die veld te gaan stap (sonder ‘n leiband) en natuurlik, soos alle honde, hou ek BAIE van slaap. 












En dit, my liewe 'blog'-lesers, is ék.

Worshondgroete, tot volgende keer...