Die lekkerste lekker in die lewe is om te gaan stap! Net die gedagte aan
die nat grassies wat so tussen my tone inklim, al die molle onder die grond in
die parkie en al die interessante briefies wat die ander honde teen die
lamppale vir my los, maak my heeltemal MAL van opgewondenheid.
In die oggende as my ounooi opstaan, lê ek tjoepstil onder die komberse en
spits my ore, want as sy daardie raasbroek aantrek, weet ek - dis dalk staptyd.
My hart begin al hoe vinniger klop, my stert gaan vanself aan die swaai en dan
- as sy daardie skoene met die veters aantrek dan wéét ek dis DEFINITIEF nou
staptyd! Dan vlieg ek soos ‘n pyl uit ‘n boog uit die bed uit. My lyf kry skoon
die wilde weghol as my ounooi aan die bandjie vat. As sy te lank vat roep ek so
hard as wat ek kan: “KOOOOOOOOOOOOOOOM OUNOOOOOOOOOI!!!” tot sy die deur oopmaak.
Die groot wolhond van oorkant, die spanjoel van langsaan en die jack russel net
verder in die straat af verwelkom my met ‘n vreeslike geblaf (ek dink hulle is
jaloers), en ek gil van pure plesier want vir die volgende paar uur is ek in
die hondehemel.
Sjoe, nou is ek lus vir stap…
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking